Ons Huis: Agtergrond

Volgens 'n NG Kerk-ringverslag van Hopetown (1904 - 1905) is daar goedkeuring verleen deur die NG Kerk aan die gedagte wat toe reeds ontstaan het, naamlik dat daar 'n Afrikaanse Christelike Vrouevereniging gestig mag word.

Die doelstelling van so 'n vereniging sou spesifiek wees om nood te lenig en lyding te versag - toestande wat ná die Eerste Wêreldoorlog hoogty gevier het.

Met hierdie edele doel voor oë is die ACVV-tak in Beaconsfield gestig met mev. N Powell as presidente. Die tak alhier het in der waarheid deur die jare veel gedoen om in die nood van behoeftiges te voorsien. Besoeke aan siekes tuis waarheen ook voedsel geneem en barmhartigheidsdienste verrig is, sowel as besoeke aan siekes in die hospitaal, het 'n gereelde instelling geword.

Dienste wat op 'n stadium deur die Departemente Volkswelsyn en Pensioene, Kindersorg en so meer verrig word, was in die vroeë jare die selfopgelegde taak van die ACVV. Finansiële steun soos liefdadigheidsinstansies dit deesdae ondervind, was daar glad nie. Slegs die ywer en liefde vir die saak was vir die klein getal lede waarmee die vereniging gestig was, genoeg aansporing om groot struikelblokke uit die weg te ruim.

Namate die werkkring wyer geword het, het ook die nood van eensame en siek bejaardes na vore gekom - soveel so dat die lede die behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes sterk aangevoel het.

Nieteenstaande groot probleme waarvan finansies die vernaamste was, kon daar in 1943 oorgegaan word tot die ingebruikneming van 'n gebou wat sou dien as 'n tehuis vir bejaardes. Hierdie gebou was geleë op die hoek van Rosestraat en Dyerplek en het die mooi naam van "Ons Huis" gekry.

'n Bestuur van Beheer waarin die NG Gemeente Dutoitspan al die jare verteenwoordiging het, is in die lewe geroep met die doel om "Ons Huis" se sake te behartig en alle verantwoordelikheid in verband met die tehuis te dra.

Ons bring hulde aan die vroue wie se name hieronder verskyn. Hulle was die presidentes van die tak, van stigting tot en met 1972. Hulle is: mevv. M Powell, H van Reenen, LA Hough, F Rousseau, D de Waal, E Hugo en J Badenhorst.

In 1957 kon die bejaardes vanuit die ou gebou geneem word na 'n nuwe een, nl. die bestaande "Ons Huis" in Ariadnelaan. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene. Daar was tóé 30 inwoners, maar die waglys het steeds gegroei, sodat daar vroeg in die sestigerjare alweer vertoë gerig moes word om verdere uitbreidings. Só dringend was die behoefte dat dit selfs deur die betrokke staatsdepartemente onderskryf is en in 1966 is die uitbreidings voltooi, sodat daar 48 inwoners gehuisves kon word.

Uitbreidings vir 'n aparte vleuel vir verswakte bejaardes, is goedgekeur. Hier word inwoners op 'n doeltreffende wyse versorg.

Benewens die gewone dagpersoneel, word die inwoners ook deur 'n opgeleide verpleegsuster en 'n maatskaplike werkster bedien.

Langs hierdie weg bring die bestuur van "Ons Huis" innige dank en waardering aan die verskillende NG Gemeentes in Kimberley en ander donateurs in die stad deur wie se finansiële steun die tehuis se laste ligter gemaak word.

(Inligting uit Eeufees-album van die NG Gemeente Dutoitspan 1972: geskryf deur mev. MJE Abel)

(Vir verder inligting oor die ACVV lees gerus)

Johanna Serfontein, matrone van Ons Huis!

Mense is lief om te sê dat die wêreld klein is. Daar steek egter baie waarheid in daardie uitdrukking.

André H van Dyk, 'n man wat van geskiedenis hou en skrywer van: "Die Serfontein-familie van Brandrivier tot Kliprivier", deel hierdie foto's met ons. Hy het baie interessante inligting oor hierdie matrone-familie van hom gegee. Hulle is albei familie van die bekende skryfster, Dot Serfontein van Kroonstad. Dot het ook 'n boek oor die Serfonteins uitgegee, "Die Serfontein-atlas". Albei hierdie boeke is tans uit druk.

As enkelouer het Joey Serfontein haar twee seuns alleen grootgemaak. Die twee seuns was eers in Gladstone Primêre skool en later is hulle na Diamantveld Laerskool toe. Hier het Chris Serfontein, die oudste seun, 'n boom tydens boomplantdag geplant. Op die foto wat einde verlede jaar geneem is, kan die boom baie duidelik gesien word. Dié is knap oor die 75 jaar oud!

Matrone Joey Serfontein is van Kimberley na Johannesburg en nog later het sy 'n matronepos in Pietermaritzburg gehad.

(Inligting: André H van Dyk)

Chris en Gawie saam met hulle ma, 'n geliefde matrone by
die inwoners. 

(Foto: Kopiereg - André H van Dyk)

18 Desember 1947. Ons Huis. Dis die inskripsie agter op hierdie
poskaartfoto. Hierdie kleurfoto is van die outydse kleurfoto's
wat met die hand ingekleur is. En onwillekeurig wonder 'n mens
wat het hierdie datum so besonders gemaak!

(Foto: Kopiereg - André H van Dyk)

Robbie, matrone se hond, was 'n geliefde en gewaardeerde
kuiergas by die ouetehuis. Hierdie foto van hom is in Ons Huis
geneem. Die belangrikheid straal behoorlik uit sy houding!

Duidelik is die man gewoond aan bederf en voorkeur-
behandeling!
(Foto: Kopiereg - André H van Dyk)































































Matrone in haar latere lewe by ander ouetehuise saam met van
die inwoners! 
Op 70-jarige ouderdom (1972) is Joey Serfontein 
in die La Verna-hospitaal in Ladysmith (Natal) oorlede. 
Haar oudste seun, Chris, is ook op 70-jarige ouderdom in 
dieselfde hospitaal oorlede in 1997.

(Foto: Kopiereg - André H van Dyk)
























Die bestuur

"'n Bestuur van Beheer waarin die NG Gemeente Dutoitspan al die jare verteenwoordiging het, is in die lewe geroep met die doel om "Ons Huis" se sake te behartig en alle verantwoordelikheid in verband met die tehuis te dra."
(Inligting uit Eeufees-album van die NG Gemeente Dutoitspan 1972: geskryf deur mev. MJE Abel)

Dit is interessant dat Dutoitspan-gemeente se predikant op hierdie stadium ds. Naudé is, die oudste broer van die baie bekende dr. Beyers Naudé. Meegaande artikel oor ds.Jozua Francois Naudé (89) het in Die Volksblad na sy afsterwe verskyn

Bekende kultuurmens oorlede
(Martiens van Bart)

KAAPSTAD. - Die bekende en geliefde Afrikaanse taal- en kultuurmens en jare lange lid van die SA Bybelgenootskap, ds. Jozua Francois Naudé (89), is gister in Pretoria aan hartversaking oorlede. Hy was die ouer broer van die ewe bekende dr. Beyers (oom Bey) Naudé.

**Oom Joos, soos hy alombekend was, is op 23 Februarie 1913 in Roodepoort gebore. Hy was daar, in Piet Retief en in Graaff-Reinet op skool. Daarna het hy in die teologie aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en was, soos oom Bey, 'n Wilgenhoffer.

** Sy eerste beroep was na die NG gemeente Beaconsfield in Kimberley, waarna hy leraar van die NG gemeente Elsburg was. In 1949 het hy hom by die SA Bybelgenootskap aangesluit en in 1976 afgetree. Hy het lank op Somerset-Wes gewoon voordat hy sy laaste dae in die Masonic Haven-tehuis in Die Wilgers, Pretoria, deurgebring het.

** Jozua was die oudste seun van agt kinders van die Bittereinder ds. Jozua Naudé. Sy susters Hymne Weiss en Lierieka Badenhorst is reeds oorlede.

** Hy word oorleef deur dr. Beyers Naudé, mev. Lichtstraal Söhnge, mev. Adalena Bekker, mev. Vryheidster (Stella) Verloren van Themaat en mev. Reinet-Retief Geldenhuys.

**Die verassingsdiens is Saterdag om 11.30 uit die NG gemeenskapskerk Fountainbleau. Ds. Chris Brand sal die roudiens lei.
[Die Volksblad Woensdag 30 Oktober 2002 bl.2]




Terug na HOME PAGE






No comments:

Post a Comment